‘n Esel of ‘n donkie?

‘n Bekende afslaer, Joseph Kidson, het sowat ‘n maand gelede op ‘n veiling in Pretoria ‘n klein eseltjie, wat deur sy ma verstoot is, op ‘n veiling verkoop vir ‘n yslike R2 700. Die diertjie was so klein dat hy hom soos ‘n kind in sy arms vas gehou het.

Die afgelope Saterdag het die eienaar en sy kinders met die eseltjie by die veiling opgedaag, gelei aan ‘n leiband soos ‘n wafferse hondjie. Die diertjie is al ‘n hele 500 cm hoog en was heel tevrede om deur almal bewonder te word. Hy was selfs bereid dat ‘n vrou haar babadogtertjie op sy rug sit.

Volgens die eienaar is die eseltjie soos ‘n kind in die huis. In die oggende druk hy sy neus teen die eienaar om na buite te gaan, want hy is ‘n sindelike eseltjie. By die kaggel in die huis druk hy eers die hond plat en slaap dan met sy kop op die hond, want hy hou van sy gerief. As die kinders van die skool af kom, wag hy hulle in en alhoewel hy nie kan blaf nie, verwelkom hy hulle met sy eselbalkies.

Volgens die eienaar kan die situasie nie vir altyd aanhou nie en sal die eseltjie later te groot word en sal hy hom dan na sy plaas toe moet neem.

Foto: Afslaer Joseph Kidson met die klein donkie wat hy opveil