Msasa boom / Brachystegia spiciformis

Die Msasa boom word algemeen in Rhodesië gevind en staan ook bekend as die “zebrawood”. Dit is in die familie Fabaceae en die gens is Brachystegia en die rang is Fabales. Msasa bome is ‘n medium grootte boom inheems van Afrika. Indien ons in die veld gaan rondstap, veral in sekere Afrika lande, sal ons hierdie pragtige bome vind en hulle is nogal volop en staan uit bo al die ander bome.

Msasa bome groei wyd en die blaartjies sit dig aan weerskante van ‘n takkie. Dit skyn geel/oranje tot rooi. Dit dra ook klein aromatiese groen blommetjies.  Die bome kry in die lente wynrooi blare. Hierdie bome groei baie goed in die bosse van Tanzanië, Zambië, Rhodesië, Malawi en Mosambiek. Dit verskaf aan die woude die mooiste kleur in die lente. Die woord “msasa” word ook in hierdie lande as dorpsname gebruik. Die woord beteken ook “rowwe plant”.  Hierdie bome is later jare ook in die Soutpansberg distrikte van noord Suid Afrika gevind en is ‘n beskermde boom wat ons nie mag uitroei nie.

Msasa bome is ‘n tropiese boom en groei die beste in warm gebiede waar daar nie groot verskil is in die winter en somer temperature nie. Dit groei glad nie baie goed in koue gebiede nie.

Msasa bome word tot 16 – 19  meter hoog maar sal kleiner wees indien dit in uiterste droë areas geplant is. Hierdie bome se blare verwissel van kleur namate die seisoene verander en dit is ‘n skouspel tussen ander bome in die bos. Die nuwe blare verskyn in laat Augustus en is gewoonlik helder rooi en dan verkleur dit na diep groen vir ‘n periode van 10 – 20 dae. Die klein blommetjies verskyn na die blare en dan verskyn die saadlobbe wat 12 – 15 cm lank word gedurende April. Die saadlobbe skiet vanself oop en versprei hul plat sade op die manier.

Hierdie bome is baie dominant tussen ander bome in die lente. Die bome se takke is dik en swaar en dit vorm ‘n mooi boom, veral met sonsondergang is hulle baie opmerklik. Dit groei egter baie stadig. Hierdie bome groei nie baie maklik van plantjies nie. Die hout is bruin en swaar en is nie duursaam om meubels of ander artikels te vervaardig nie. Dit word wel gebruik vir die vervaardiging van houtskool. In Tanzanië gebruik die mense die uitgeholde dik stamme vir bootjies op die mere. Die wortels van hierdie bome word ook gebruik as medikasie vir maagaandoenings. Dit is egter ‘n heerlike koelteboom. Die blare en bas word ook gebruik vir plantvoedsel en verskaf suurstof in die grond.

Tuiniers, geniet u tuin tot volgende keer.