Motorrubriek – Jeep Renegade 1.4T Limited awd

 

Jeep produkte is vir verskeie jare wêreldwyd bekend maar met die dat Fiat nou ook betrokke is by Chrysler, kon ‘n mens verwag dat daar interessante dinge gaan plaasvind. Die Renegade is sedert 2015 in die mark en dit is opmerklik hoeveel daarvan op die paaie van ons land beweeg.

Die Jeep Renegade wat onder die loep geneem gaan word is die 1.4T Limited awd. Die kragbron wat gebruik word is 1368 kub. sentimeter, vier silinder, enkel oorhoofse nokas, 16 klep, inlyn met ‘n turbo gepas, Fiat enjin. Die nokas word met ‘n band aangedryf en deur die jare het Fiat bewys dat die metode betroubaar is. Die turbo sorg dat die werkverrigting van die kragbron uiters doeltreffend plaasvind. Die wringkrag is 250 Nm tussen 2500 en 4000 o.p.m. en die krag is 125 kW by 5500 o.p.m. Bogenoemde stel die Renegade in staat om van 0 tot 100 km/u te versnel in 8,8 sekondes en die topsnelheid is 196 km/u. Hierdie enjin word gebruik in die Alfa Romeo se Giuletta Super outomaties.

Die ratkas wat gebruik word is die nege spoed outomatiese ZF9HP ratkas en die oorskakeling daarvan geskied seepglad. Ander voertuie in die Jeep reeks wat dieselfde ratkas gebruik is die Trailhawk en Cherokee. Die ontwerp van hierdie ratkas is van so aard dat dit nodig is vir slegs een wiel om op soliede grond te wees, en die voertuig kan beweeg word. Wanneer dit nodig is om ‘n laer rat te gebruik, is dit slegs nodig om die brandstof pedaal plat te trap en dit skakel terug na ‘n laer rat.

Op die oop pad kan daar met gerief teen 130 km/u gereis word. Onder normale omstandighede word die wringkrag na die voorwiele gekanaliseer maar wanneer dit nodig word om die krag te versprei na die agterwiele, word dit gedoen deur middel van Jeep se Active Drive 1 stelsel. Wanneer die krag oorbrenging stelsel (PTU) vind dat die voor as vinniger draai as die agter as, word die krag outomaties herverdeel tussen die voor en agter as, en is die krag verspreiding meer eweredig.  Die PTU is basies ‘n Torsen ewenaar op die voorwiele.  Wanneer daar ‘n behoefte ontstaan vir beter kragverspreiding na die agteras, word dit outomaties gedoen na die agterwiele d.m.v nog ‘n Torsen ewenaar wat op die agteras gemonteer is.

Die rygerief van die Renegade is van hoogstaande gehalte en alle toerusting is binne maklike bereikbare afstand van die bestuurder. Lugversorging, radio ensovoorts maak deel uit van daardie toerusting. Selfs die passasiers op die agterste sitplek het genoeg beenspasie en kan hulle ‘n gemaklike sit posisie inneem. Die sitplekke is gerieflik en met al die verstellings tot jou beskikking kan jy jou maklike verbeel jy is tuis en sit op jou geliefkoosde uitskopstoel.

Hierdie voertuig is die ideale voertuig  vir veld en hoofweg reisigers en indien u in die mark is vir so ‘n voertuig, kan u gerus u naaste Jeep handelaar gaan besoek met die oog op ‘n moontlike toetsrit.