Motorrubriek – Hyundai Creta

 

Die Hyundai Creta is ‘n nuwe toevoeging tot ‘n reeds baie gewilde reeks van Hyundai. Dit is vernoem na die bekende Griekse eiland Creta en die doel is dan ook om dit die leier te maak in die sportnutsvoertuig reeks. In hierdie mark groep is die mededinging van ‘n baie hoë standaard, want in hierdie vlak is voertuie soos Renault Duster, Ford Ecosport en andere betrokke.

Die binneruim vergelyk goed met duurder voertuie in die Hyundai reeks en binneruimte is ‘n aspek wat deeglik aangespreek is. Daar is meer as genoeg beenruimte vir die agterste passasiers en die voorste ruimte, met die verskillende verstellings vir die voorste sitplekke verseker dat ‘n gemaklike sitposisie ingeneem kan word. Buite afwerking skep ‘n indruk dat hierdie ‘n voertuig is wat vir enige doel aangewend kan word. Die grondvry ruimte is hoog en alhoewel dit nie ‘n voertuig is vir ruwe terrein nie, kan dit tog tot ‘n mate aangewend word in die natuur en op grondpaaie.

In SA is dit beskikbaar met ‘n 1.6 liter petrol met ‘n standaard sesspoed handratkas, ‘n 1.6 liter outomatiese ratkas en ‘n 1.6 liter turbodiesel outomatiese ratkas. Al drie die kragbronne is besonder aktief in die sin van dat wanneer dit ingespan word, is die reaksie lekker “lewendig”.  90 kW is beskikbaar teen 6300 o.p.m. en die wringkrag is 150 Nm teen 4850 o.p.m. Verder is die brandstofverbruik volgens die vervaardiger 7,9 l/100 km en met die brandstof houer wat 55 liter hou kan ‘n aansienlike afstand afgelê word voordat dit nodig is om vol te maak.

Binne afwerking is van hoogstaande gehalte en die sitplekke is met leer bedek en die binne temperatuur word outomaties beheer deur ‘n afsonderlike skakelaar. Al die ander bykomstighede soos ‘n radio, aanraak skerm en ander gerief is beskikbaar. Op die stuurwiel is beheer skakelaars gemonteer wat verskeie van die toerusting mee beheer word. Veiligheid is nie agterweë gelaat nie en die nodige lugsakke, ABS remme en ander veiligheidstoerusting maak deel uit van die pakket.

Buite afwerking met die vloeiende lyne is ‘n lus vir die oog. Aan die voorkant is kolligte in die onderste gedeelte van die stamper gepas en die hoofligte vorm deel van die sierrooster met die Hyundai kenteken in die middel van die sierrrooster gemonteer. Aan die agterkant gaan die agterligte om die hoek van die bakwerk en is dit duidelik sigbaar van die kant van die voertuig af. Op die dak gedeelte is reëlings aangebring om die afwerking van die dak te voltooi. 17 duim allooiwielnawe voltooi die prentjie en ‘n trukamera sorg dat daar met veiligheid geparkeer kan word.

Alhoewel dit nie so groot is soos die Sante Fe of die Tucson nie, is dit ‘n voertuig in sy eie reg. Wanneer daar om die voertuig na agter beweeg word, word ‘n mens se aandag getrek deur die drukvlerk aan die agterkant. Indien u oorweeg om ‘n nuwe voertuig aan te skaf, kan u dit gerus neem vir ‘n toetsrit.