Londen: Reuse winkelsentrum in ligte laaie

Minder as ’n maand nadat ’n woonstelblok in Londen afgebrand het en die lewens van sowat 80 mense geëis het, is ’n tweede groot gebou in ’n brand beskadig.

Die afgelope naweek het die Camden Lock Market, wat meer as ’n duisend winkels het, beskadig deur ’n reuse brand.

Meer as 70 brandweermanne met tien brandweerwaens het ure lank gestry om die vernietigende vlamme op minstens drie vloere van die gebou te blus.

Alhoewel die brandweer daarin geslaag het om die vuur te blus, is talle juwelierswinkels en restaurante beskadig of selfs totaal vernietig.

Dit is nie bekend of enige mense in die brand omgekom het nie, en ondersoekers probeer vasstel wat die brand veroorsaak het.

Die Camden Lock Market, met sy honderde winkels in die middestad van Londen, is ’n groot toeriste aantrekkingskrag, maar sal gedeeltelik gesluit wees om herstelwerk te doen.