Kataloniërs wil in Oktober na stembus

Kataloniërs sal gedurende Oktober vanjaar na die stembus gaan vir ’n opvolg referendum oor onafhanklikheid, al sou dit sonder die toestemming van Madrid moet plaasvind.

Volgens ’n dokument wat vrygestel is deur die leiers in die Kataloniese provinsie van Spanje, sal onafhanklikheid van Spanje verklaar word sodra die uitslag bekend gemaak is.

Volgens die streek se president, Carles Puigdemont, sal onafhanklikheid van Katalonië beteken dat die gebied wegbreek van die Spaanse stelsel.

Hy het ook verklaar dat die streeksregering die uitkoms van die referendum sal respekteer en daarvolgens sal handel.

Katalonië se stryd om onafhanklikheid duur reeds dekades, en in die vorige referendum het ’n oorweldigende meerderheid ten gunste van afskeiding van Spanje gestem.

Die streek is die mees welvarende gebied van Spanje, en word beskou as die lewensaar van die Spaanse ekonomie, wat deels ook verklaar waarom die Spaanse regering gekant is teen enige poging van afskeiding, en het reeds verskeie kere gemaan dat so ’n poging nie deur Spanje toegelaat sal word nie.