Hof stel SEB-kontrak af

Die Hooggeregshof in Johannesburg het die omstrede kontrak vir 70 nuwe lokomotiewe ter syde gestel.

In die uitspraak word gemeld dat korrupsie sal seëvier indien die kontrak nagekom word.  Die lokomotiewe, waarvan die eerste 13 reeds voorsien is aan Prasa, is te hoog en nie geskik vir plaaslike spoortoestande nie.

Die hof het bevind dat die swart bemagtigingsmaatskappy wat die tender gekry het, Swifambo Real Leasing, in wese slegs ‘n paar administratiewe handelinge verrig het en geen kennis van die spoorweë gehad het nie. Duidelik was dit dus ‘n geldmaakskema onder iide vaandel van swart ekonomiese bemagtiging, waarin enkeles deur bedrog ryk geword het.

Uiteindelik het Swifambo die treine in Spanje bestel.

Die voorsitter van Prasa, popo Molefe, het intussen vir Swifambo gesê dat hulle al hulle lokomotiewe moet kom haal. Skynbaar gaan Prasa ook probeer om die miljarde rande wat reeds betaal is, te verhaal by Swifambo, maar ontleders is van mening dat Swifambo nie meer die geld gaan hê nie en dat die verhaalpoging ‘n oefening in futiliteit gaan wees.