Handelsooreenkoms tussen VSA en Brittanje beoog

’n Handelsooreenkoms tussen Brittanje en Amerika kan baie gou verwag word nadat president Donald Trump en premier Theresa May gesprek gevoer het tydens die G20 Beraad in Hamburg, Duitsland.

President Trump het die inligting aan die media bekend gemaak na afloop van die beraad wat die naweek ten einde geloop het.

Die president het gesê belangrike gesprekke is met premier May gevoer en bygevoeg dat daar ’n besondere band tussen die twee lande bestaan wat versterk sal word met ’n handelsooreenkoms.

Die Europese koerante berig dat president Trump eersdaags ’n amptelike besoek aan Londen sal bring, en alhoewel hy dit nie direk gesê het nie, bestaan die vermoede dat ’n handelsakkoord gesluit sal word.  Die datum van die besoek is egter nog nie bekend nie.

Foto – Premier Theresa May en President Trump