Goeie eienskappe by wedvlugduiwe

Hieronder word meer uitgebrei oor die goeie waarneembare eienskappe waaroor ‘n duif behoort te beskik. (a) tot (d) was reeds vermeld.

(e)   Die agterste punt van die borsbeen moet stewig voel as ligte druk daarop uitgeoefen word en verkieslik moet die borsbeen nie ver uitstaan nie. ‘n Uitstaande borsbeen kan die gevolg van onderontwikkelde borsspiere wees.

(f)   ‘n Lang borsbeen gee ‘n beter balans vir die duif wanneer hy deur die lug beweeg en verskaf ook ‘n beter dravermoë vir die liggaam. Dit is natuurlik moeilik en nie altyd moontlik om die borsbeen met ‘n liniaal te meet nie. ‘n Kleiner en ‘n groter duif se borsbene verskil nie werklik veel nie.

(g)   Die stuitbeentjies moet stewig dig by mekaar staan (‘n wyfie s’n kan effens oop wees) en moet nie verder as uiters ‘n vingerbreedte van die punt van die borsbeen af wees nie.

(h)  Die oog moet waaksaam en wakker lyk. Dit is beter om duiwe met verskillende oogkleurvariasies aan te skaf want dit kan wees dat die verskillende oogkleure en pigmentasie in verskillende weersomstandighede verskillend reageer. Variasie is in elk geval die basis van seleksie soos ons later by teling sal sien.

(i) Die duif moet na sy hanteerder kyk en nie anderpad nie. Dit dui daarop dat hy oplettend is vir wat in sy omgewing gebeur en nie sku nie. Ook is die duif wakker en skerp.

(j)  Nadat die duif ‘n rukkie in die hand gehou is sodat hy meer kalm is, moet die lugopening in die agterkant van die tong klein en spleetvormig wees. ‘n Groot en ronde opening is ‘n aanduiding dat daar iets met die asemhalingstelsel van die duif skort. As die duif se kop naby die oor gehou word, moet ‘n hygende asemhaling nie hoorbaar wees nie.

Koop slegs duiwe wat ‘n toegeneentheid wek, want sonder die nodige aantrekking kry ‘n duif minder aandag en word sy motivering om so gou moontlik by die huis te kom, noodwendig nadelig beïnvloed. Hy voel dit aan.