Geniet die koffie en leef langer

Diegene wat ietwat verslaaf is aan koffie, se kanse om langer te leef, is redelik goed volgens die jongste verslae van wetenskaplikes wat oor ’n lang tyd navorsing gedoen het.

Volgens die verslag is ’n koppie boeretroos goed vir die gesondheid, en ’n paar koppies meer per dag is nog beter.

Vroeër is berig dat koffie nadelig is vir die gesondheid, en verlede jaar is berig dat koffie ’n heilsame uitwerking het op die mens se sigvermoë.

Volgens die navorsing wat gedoen is deur die Internasionale Agentskap vir Navorsing in Kanker en die Imperial College in  London is die navorsing oor sowat tien lande in Europa gedoen met verskillende soorte koffie en die drinkgewoontes van mense.

Meer as 500 000 mense is in die navorsing gebruik om data te bekom, en ’n tweede studie is gedoen deur die Universiteit van Kalifornië in Amerika waarby vier etniese groepe betrek is waarvan die leefstyl wissel.

In al vier die etniese groepe is gevind dat die gebruik van koffie ’n voordeel inhou wat die gesondheid betref wat gemeet is teenoor nie-koffiedrinkers.

Die koffiedrinkers se gesondheid het gemiddeld met 12 persent verbeter teenoor diegene wat nie koffie drink nie.

Die navorsers beweer dat mense wat tot drie koppies koffie per dag geniet, hulle risiko met tot 18% verminder om van gewone, meer bekende oorsake, te sterf.