Gemmerbos / Watersalie / Tetradenia riparia

Dit is baie moeilik om die gemmerbos se pragtige fyn blommetjies mis te kyk. Die gemmerbos is ‘n inheemse struik. Hierdie plant behoort nou in volle blom te wees. Tetradenia riparia is in die familie Lamiaceae, tiemie en roosmaryn behoort ook tot hierdie familie. Dit word ook die watersalie genoem en word in Engels die “misty plume bush” genoem omdat die blommetjies soos veertjies lyk, mens kan amper sệ dit vertoon soos kant aan stingeltjies. Dit is ‘n bladwisselende struik. Die gemmerbos is nie familie van die gewone gemmerplant nie.

Die blommetjies is van wit tot helder pers en dit word op kort dun stingeltjies gedra. Die plant self het langerige kaal takke en die blommetjies verskyn dig opmekaar aan die bopunt van die takke. Die takke se kleur is grys tot rooibruin en die klein takkies waaraan die blommetjies hang is pers. Gemmerbos verras ons met weelderige blommeprag as daar nie juis meer kleur in die tuin is nie, omdat hulle in die winter blom en die blomtyd is redelik lank van Junie tot Augustus.

Gemmerbos aard goed in areas wat glad nie ryp kry nie en hulle natuurlike habitat is in vogtige gebiede soos Natal. Plant dit in goed dreinerende komposryke grond en in vol son. Hulle aard ook goed in rotstuine. In die warmer gedeeltes van die land sal hulle goed aard in halfskadu. Gee die struike in die somer meer water as gedurende die wintermaande. Dis die ideale plante vir somerreënvalstreke. Gemmerbos is rypgevoelig en moet beskerm word anders blom hulle nie.

Dit is ‘n redelike groot struik en die blomme is aromaties. Die struik word tot 3 meter hoog. Die blare van die gemmerbos is klewerig en harig. Blare is helder groen en hartvormig. Gemmerbos groei vinnig en blom ook vanaf die eerste jaar.

Tetradenia riparis word met ‘n mot (Trichoplusia molybdina geassosieer. Dit lok dan ook skoenlappers en ander insekte na ons tuine.

Sekere bevolkingsgroepe glo dat dit medisinale waarde het en gebruik dit vir hoesbuie en maagpyn.

Dit word met steggies voortgeplant. Hulle maak baie gou wortels indien hulle in sanderige grond geplaas word. Dit groei nie maklik van saad nie. Die lang stingels met die blommetjies word in blomrangskikkings gebruik en hou nogal lank in water.

Tuiniers, geniet u tuin tot volgende keer.