Franse Leërstafhoof bedank

Die stafhoof van die Franse leër, Pierre de Villiers, het sy bedanking ingedien weens die konflik met die president, Emmanuel Macron, oor besparingsmaatreëls wat ingestel word in die weermag.

Dit is die eerste keer in die Vyfde Franse Republiek dat die leër se stafhoof bedank, en word allerweë beskou as ’n geweldige terugslag vir die weermag en ’n groot verleentheid vir Macron.

Generaal de Villiers het volgens persberigte gesê hy sien nie kans om Frankryk en sy mense te dien en te beskerm op die wyse wat dit gedoen moet word as sulke radikale besparings van toepassing is nie.

Hy sê hy het sy verantwoordelikheid nagekom en sy bedanking ingedien wat deur die land se president aanvaar is.

Politieke ontleders sê die uittrede van die leër se hoof is ’n klad op Frankryk se naam omdat dit die eerste keer is dat so ’n bedanking ontvang is in die bestaan van die Vyfde Republiek van Frankryk.