EU verwerp Turkye se aansoek as lid

Die Europese Parlement het tot die besluit gekom om enige verdere debat oor die toelating van Turkye as lid van die Europese Unie te verwyder van die sakelys.

Die besluit is geneem teen die agtergrond dat Turkye die fundamentele beginsels van demokrasie oortree deur selfs die hoof van die land se Amnestie Internasionaal in hegtenis te neem.

Die Europese Parlement het oorweldigend teen die moontlikheid van lidmaatskap vir Turkye gestem wat die debat finaal beëindig het.

Waarnemers wys daarop dat president Erdogan van Turkye ondemokraties en onregmatig opgetree het teen lede van die opposisiepartye wat in botsing is met demokratiese beginsels van die EU lande.

Die Europese Unie is ook nie geneë om Turkye as lid te aanvaar na die staatsgreep poging van verlede jaar nie, en veral oor die regering se optrede daarna nie.

In reaksie het ‘n Turkse woordvoerder gesê die beskuldigings teen sy land is vals en weerspieël nie die werklikheid nie.

Intussen het Amnestie Internasionaal geëis dat sy direkteur in Turkye onverwyld vrygelaat word, asook ’n aantal aktiviste wat gekant is teen Erdogan se diskriminerende beleid.