Eskom en Transnet mors groot

Terwyl die gemiddelde huishouding R290 per maand vir elektrisiteit moet betaal, laat Eskom hulle sowat R1 200 maandeliks opdok. En as kersie op die koek vra Eskom nou weer vir ‘n verdere verhoging van 20%.

Die burgerregtegroep, OUTA, het gereageer op die nuus van die statistikusgeneraal, Pali Lehohla, wat uitgewys het dat tussen Eskom en Transnet, hulle saam sowat 76 persent van die hele kapitale uitgawe van die staatsektor bestee.

In die verslag word aangetoon dat Eskom en Transnet die afgelope boekjaar onderskeidelik R73 miljard en R34 miljard aan kapitale uitgawes bestee het. Die staat se algehele uitgawes het vanaf 2015 tot 2016 met R19miljard toegeneem.

OUTA meen Eskom kry genoeg geld van die staat, terwyl sy kapitale bestedingsbegroting ook voldoende is om hom in bedryf te hou, dat hy nie nodig het om die publiek verder te melk nie.

Boonop het Eskom ‘n gekwalifiseerde oudit gekry en daar kon geen rekenskap gegee word van uitgawes van R3 miljard nie. Ted Blom van OUTA sê daar moet iewers “tower toegangskode” wees wat hierdie uitgawes gemagtig het, of iewers lê ‘n ou tjekboek rond. “Maar Eskom se hoof finansiële beampte, Anoj Singh, sal moet verduidelik.”