Ekonomiese uitdagings wag op ons

Die tegnologiese ontwikkeling wat soos ’n tsoenami oor die wêreld spoel, gaan ekonomiese uitdagings teweegbring wat klaarblyklik in die ontwikkelde wêreld bestuur sal word, maar die opkomende beskawings gaan dalk steier.

Die opmerking is gemaak deur ’n ekonomiese adviseur wat ’n ontleding gemaak het van vooruitsigte wat te wagte is vir die mensdom se volgend dekade.

Kriptografiese betaalmiddels

Die moontlikheid dat geldstelsels vervang gaan word met die nuwe stelsels soos “Bitcoin” wat beskryf word as “Internet geld” en ook die benaming het van sogenaamde “kriptografiese geld”.

In eenvoudige taal kan dit gestel word dat “bitcoin” maar een van baie betaalmiddele is wat as Internet geld beskou word.

Indien die kriptografiese geld as betaalmiddel gaan bly leef, bestaan die moontlikheid dat die geldstelsels soos die dollar, pond, euro of Suid-Afrika se rand, geheel van die handelswêreld gaan verdwyn, wat ook die bestaan van banke kan bedreig indien hulle nie die stelsel wil aanwend as wettige betaalmiddel nie.

Elektriese voertuie

Die koms van die e-voertuig om die binnebrandenjin te vervang, hou ingrypende ekonomiese uitdagings in vir die wêreld, maar gaan op die lang duur die kontinent van Afrika met ’n plettervat grond toe bring.

Die vervaardiging van motors wat met die binnebrandmasjien aangedryf word, se dae word min, en namate die elektriese motors hulle plek inneem, word onderdele en dienste al moeiliker bekombaar.

Opgeleide werktuigkundiges se eerste probleem is juis hoe hulle die pot aan die kook hou, want die e-motor het nie gereelde dienste nie en sy batterye word sommer flink vervang na gebruik van etlike jare.

Die motors word nie uit die gewone garage se vertoonlokaal verkoop nie want die voornemende koper bestel en betaal dit direk aan die vervaardiger, heelwaarskynlik per Internet met kriptografiese geld.

Die bestaan van ’n motorhandelaar wat dienste verskaf gaan verdwyn soos wat die horlosiemaker verdwyn het met die koms van die battery aangedrewe horlosie.

Kragvoorsiening

Die e-motor kan nie die voertuigmark oorneem as daar nie voldoende elektriese krag is wat ook op landswye vlak langs paaie beskikbaar is nie.

Dit beteken dat die lande van die wêreld nou reeds moet beplan om krag te voorsien, en lande soos Suid-Afrika, Australië en Amerika behoort hulle gebiede wat semi-woestyn streke is, te benut deur reuse sonpaneel plase te bou wat voorsiening kan maak vir die verhoogde aanvraag in elektrisiteit.

Ander kragsentrale soos windenergie en moontlik die vestiging van kernkrag sentrales sal betyds in aanbou moet kom.

Kernkrag afval

Die toenemende gebruik van kernkrag bring egter die gevaar van groot hoeveelhede kernafval, maar kenners meen die afval kan per ruimtetuig na die vêrste vêrte van die hemelruim gestuur word om die aarde te vrywaar van kernafval besmetting.

Duisend vrae

Natuurlik is daar ’n duisend vrae waarop geen antwoorde nog gevind is nie, en alhoewel ’n sonkrag aangedrewe vliegtuig al om die wêreld gereis het sonder probleme, beteken dit nie dat die John Deere trekker ook elektries aangedrewe gaan word om die land om te ploeg nie.

Hoe al hierdie veranderings, tesame met ’n berg ander faktore wat nie genoem is nie, die wêreld van môre gaan beïnvloed, sal slegs die tyd aan ons uitwys.