Duitsland wil Qatar geskil besleg

Duitsland se mees senior diplomaat, Sigmar Gabriel, het in ’n verklaring gesê sy land se intelligensiediens sal deel vorm van die nuwe poging om beskuldigings van die Arabiese lande teen Qatar op te klaar en versoening bewerkstellig.

Qatar word daarvan beskuldig dat hy terrorisme ondersteun.

Saoedi-Arabië, tesame met ’n aantal ander lande in die Midde-Ooste, het ’n ultimatum aan Qatar gestel wat deur Qatar geweier is.

Dit het die spanning tussen die twee kampe verhoog tot die vlak dat uitgebreide sanksies toegepas word teen Qatar.

Die Duitse minister van buitelandse sake, Sigmar Gabriel, sê in ’n radio onderhoud dat Qatar die versekering gegee het dat hy “sy boeke sal oopstel” vir  insae sodat die geskil uit die weg geruim kan word.

Vroeër het Qatar geweier om die eise van Saoedi-Arabië na te kom en gesê Qatar ondersteun nie terrorisme nie, en sal ook nie toelaat dat ander lande inbreuk maak op sy soewereiniteit nie.

Minister Gabriel het pas teruggekeer van ’n drie dae besoek aan die Midde-Ooste waar hy eerstehandse inligting bekom het om die geskil tussen Qatar aan die een kant en Saoedi-Arabië, Egipte, die Emirate en Bahrein aan die anderkant uit die weg te ruim.

Foto – Minister Sigmar Gabriel en Sheikh Mohammed bin Abdulrahman al-Thani