Duitsland skenk miljoene euro vir Mosoel

Duitsland het aangekondig dat hy ’n bykomende 100 miljoen euro gaan bydra as hulp om die verwoesting in die Irakse stad Mosoel te verlig.

Die stad, wat vir ’n geruime tyd onder die beheer van die Islamitiese Staat terroriste was, is bevry deur Amerikaanse lugaanvalle wat groot dele van die stad in puin gelê het.

Die stryd om Mosoel te bevry, het maande van hewige gevegte geëis en honderde mense het omgekom waarvan talle burgerlikes is.

Die regering in Duitsland het onderneem om die reuse bedrag beskikbaar te stel om die verarmde mense weer op te hef wat die afgelope drie jaar ’n moeilike stryd gehad het om te kon voortgaan sonder werk en sonder inkomste.

Die minister van ontwikkeling, Gerd Müller, het gesê die grootste deel van die geld sal beskikbaar gestel word om die kinders te help.

Hy sê die plan is om mense lewens te red, toeganklikheid te bied aan kinders om skoolopleiding te kry, en om nuwe werksgeleenthede te skep.

Volgens ’n vrygestelde verslag het Duitsland reeds sowat 50 miljoen euro beskikbaar gestel, wat die totale hulppakket op 150 miljoen euro te staan bring.