Druk op Noord-Korea sonder welslae

Twee Amerikaanse bomwerpers het die afgelope naweek saam met Suid-Korea en Japan se vegvliegtuie vliegoefeninge uitgevoer in reaksie op Noord-Korea se kernwapen program.

Die Amerikaanse lugmag het die mededeling gemaak tydens ’n mediakonferensie en gesê nagemaakte bomme is op ’n ou skietveld afgegooi as deel van die oefening.

Minstens twee B-16 bomwerpers van die Amerikaanse lugmag is gebruik wat vanaf die Guam basis opgestyg het en na die Koreaanse skiereiland gevlieg het.

Die gesamentlike poging van Amerika, Japan en Suid-Korea het ook op die G20 beraad ’n gesamentlike verklaring uitgereik en gevra vir strenger sanksies teen die kommunistiese Noord-Korea.

In die gesamentlike verklaring word verwys na die toenemende bedreiging wat gesamentlike optrede vereis.

Die dokument wat deur president Donald Trump, die Japanse premier, Shinzo Abe, en Suid-Korea se president Moon Jae-in onderteken is, is aan al die afgevaardigdes gestuur.

Die versoek is egter nie deur president Vladimir Poetin ondersteun nie, en hy het gevra dat die aangeleentheid eerder “koelkop” benader moet word.

Poetin het gesê die Noord-Koreaanse kernwapen probleem is wel ernstig, maar die G20 moet kalm optree in die “delikate aangeleentheid”.

Rusland het ook verlede Donderdag in die VN se Veiligheidsraad die Amerikaanse voorstel om maatreëls teen Noord-Korea in te stel, geblokkeer.

Moskou beweer dat die pas afgelope toets wat beskou word as ’n reuse deurbraak in Noord-Korea, slegs ’n middel afstand ballistiese missiel was en beslis nie ’n interkontinentale missiel nie.