Chaos in Vrystaatse dorpe

Groot skade is aangerig in die Mafube-plaaslike munisipaliteit, wat Frankfort, Villiers, Cornelia en Tweeling insluit.

Die totale chaos heers tans in die gebied, en die ANC-regering moet verantwoordelik gehou word vir alle skade, aldus Jan Oost, VF Plus-raadslid in Mafube.

Volgens mnr. Oost is Villiers en Qalabotjha tans sonder water as gevolg van werkers wat die wateraanleg beset en saboteer.  Hy het ʼn strafregtelike klag teen die betrokke groep betogers gelê.

“Die ANC-regering het beheer verloor en hul onvermoë om die munisipaliteit te bestuur en wet en orde te handhaaf skend die inwoners van Mafube se reg tot basiese dienste.

“Die VF Plus beskou dit as onaanvaarbaar dat inwoners vir dienste, soos vullisverwydering moet betaal, maar hierdie dienste vir die afgelope twee maande nie ontvang het nie. Die VF Plus sal onder andere ʼn klag by die verbruikerskommissie indien en ook eis dat inwoners terugwerkend kortings op hul munisipale tariewe ontvang.

“Ten spyte daarvan dat Mafube reeds sedert Mei 2017 onder provinsiale administrasie geplaas is, het die krisis waarin hierdie munisipaliteit hom bevind slegs vererger.  Munisipale amptenare het weereens nie hul salarisse vir Junie ontvang nie en gevolglik vind daar protesaksies en sabotasie plaas en geen dienslewering geskied nie.”

Die afgelope week het betogers onder andere die kragstasie en eiendom in Cornelia beskadig, bande en ander voorwerpe gebrand en in Frankfort en Villiers rommel gestrooi.