Brittanje toets sy vliegdek oorlogskepe

Die Britse vloot gaan sy twee splinternuwe vliegdekskepe vir die eerste keer toets, maar doen dit met ’n mate van uitdaging aan die Sjinese regering deur die skepe na die Sjinese Suidsee te laat vaar.

Die Britse pers berig dat die minister van buitelandse sake, Boris Johnson die Britse regering oortuig het om die oefenlopie “onder die neus van Sjina” uit te voer.

Johnson het glo gesê dat die twee skepe na die gebied gestuur sal word sodra hulle gereed gemaak is vir die vaart daarheen.

“Een van die eerste dinge wat ons sal doen met die twee kolossale vliegdekskepe wat ons gebou het, is om hulle te stuur op ’n “vryheid van navigasie program” in die Sjinese Suidsee gebied”, het minister Johnson gesê.

Die Sjinese Suidsee gebied is van die besigste seeroetes vir handelsvaartuie ter wêreld wat jaarliks vrag van handelsware ter waarde van $5 miljard vervoer

Waarnemers is van mening dat dit ’n gebied is wat veel uitdagings bied, en die skepe se vaart kan as ’n daad van aggressie beskou word deur die Sjinese owerheid.