Brexit laat Britse premier struikel

Die Britse premier, Theresa May verkeer onder geweldige druk weens die onverkwiklike situasie waarin sy gedompel is om Brxit suksesvol te bestuur terwyl niks volgens plan verloop nie.

Dit het daartoe gelei dat sy Dinsdag ’n noodvergadering van haar kabinet belê het om die gemoedere tot bedaring te bring onder die Konserwatiewe Party parlementariërs wat tans ook na mekaar begin byt oor Brexit aangeleenthede.

Talle parlementslede soek tans steun om ’n “kaping” in die leierskap te bewerkstellig in ’n radelose poging om Brexit op koers te kry soos wat beplan was.

Talle Tories is van mening dat Theresa May moet terugstaan na haar hoeveelste mislukking as eerste minister, maar die vorige premier, Cameron, het glo ’n woord van advies en bemoediging gaan spreek in Downingstraat 10.

Die gerugte loop oral in Brittanje dat die premier moet plek maak vir die Britse minister van buitelandse sake, Boris Johnson, om die leisels oor te neem.

Die beskuldiging word gemaak dat premier May nie daarin slaag om haar kabinet eendragtig agter haar te kry nie, en die onderlinge gebyt na mekaar word as ’n teken van ernstige verdeeldheid oor verskeie sake bestempel.

Die openlike rusie tussen kabinetslede is die hoofrede waarom sy die krisis vergadering belê het, want as sy nie daarin slaag om dit te besweer nie, gaan haar termyn as premier blitsvinnig beëindig word.

Intussen is verneem dat daar reeds gekoukus word onder parlementariërs van die Arbeidersparty om ’n mosie van wantroue in die eerste minister te stel.

Foto – Premier Theresa May