Boikot teen Qatar gaan voort

In ’n eksklusiewe onderhoud met ’n Duitse koerant, die  Deutsche Welle na afloop van die G20 beraad in Hamburg, het die minister van buitelandse sake van Saoedi-Arabië, Adel bin Ahmed al-Jubeir, bevestig dat die boikot teen Qatar voortgaan.

Volgens die minister het die Golfstate hulle weggedraai van Qatar omdat die land glo terroriste soos die Islamitiese Staat finansieel gesteun het.

Politieke ontleders is egter bekommerd dat die optrede van Saoedi-Arabië se boikot nie oor terrorisme gaan nie, maar oor ’n ander saak wat nie in die openbaar bekend gemaak sal word nie.

Die minister het ook gesê die boikot is ingestel omdat Qatar sy grense oopgestel het vir mense wat terroriste steun of skakel met die terreurgroepe.

Volgens hom is Qatar besig om haat en aggressie te versprei in die streek, en nie hou by die sogenaamde Riyadh ooreenkoms wat onderteken is in 2013 nie.

Aan die begin van Junie vanjaar het Saoedi, Egipte, Bahrein en die Verenigde Arabiese Emirate hulle diplomatieke bande met Qatar opgehef en ’n handelsboikot ingestel.

Pogings van die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Rex Tillerson, om versoening te bewerkstellig, het misluk.

Intussen het Duitsland aangekondig dat hy toetree tot die aangeleentheid in ’n poging om die geskille uit die weg te ruim.