Boere wat grond weggee is lafaards

Ontstoke boere sê dat hulle nie lafaards is om hulle grond straffeloos te laat beset nie, of om hulle grond lafhartig weg te gee, net omdat die EFF so sê nie.

Die leier van die EFF, Julius Malema, was die naweek weer sy rassistiese self en het ondersteuners opgesweep om grond te beset. Hy het gesê dat swartes wat nog nie ‘n stukkie grond vir hulleself gevat het nie, lafaards is.

Hy het ook gesê dat EFF-lede wat in agterkamers bly, lafaards is en net ‘n stuk grond moet gaan vat. “Dis joune”, het hy gesê.

Hy het ook verwys na ‘n boer naby Sheshego wat die helfte van sy grond weggegee het. Wit boere wat die helfte van hulle grond weggee, sal deur Malema toegelaat word om die ander helfte te hou. As hulle egter nie grond wil weggee nie, sal hulle uiteindelik alles verloor, is sy dreigement.

Intussen het die DA nog geensins op Malema se grondgryp uitsprake gereageer nie, waarskynlik uit vrees dat dit die brose koalisie in plekke soos Pretoria en Johannesburg uitmekaar kan spat.

Boere het intussen skerp gereageer op Malema se uitsprake. “Ons het die grond gekoop en het dit nie gesteel nie, en daarom hoef ons niks weg te gee nie. Gee eerder jou lede opdrag om te begin werk in plaas daarvan om die land in chaos te dompel met protesoptredes. Dan sal hulle dalk op ‘n dag die grond kan bekostig, soos enige ander grondbesitter,” het ‘n boer aan Die Vryburger gesê.