Boere ly swaar verliese weens kapings

Die Suid-Afrikaanse boere is nie net uitgelewer aan onvoorspelbare klimaatsveranderings soos droogtes en vloede nie, maar ook aan plaasaanvalle en rooftogte wat deurlopende waaksaamheid vereis.

Die jongste probleem waarmee boere te kampe het, is die kapings wat veral in die Sentraal Transvaal gebied uitgevoer word wanneer hulle met volgelaaide vragmotors met voedselprodukte na die markte beweeg.

Boere uit die Verre Noord-Transvaal het die afgelope tyd verskeie kapings beleef en is die leë vragmotors later iewers langs ’n snelweg gevind.

Kobus de Beer is een van die slagoffers toe sy vragmotor verlede week onderweg na die mark deur boewe gekaap is.

Hy sê die vragmotor is deur ’n Volkswagen agtervolg wat die bestuurder van die vragmotor beduie het om stil te hou omdat hy geoordeel het dat dit moontlik die polisie kan wees, of dat iets fout is met die vragmotor.

Minstens vier het uit die motor geklim, almal het koeëlvaste baadjies aangehad en die bestuurder in die kattebak van die motor gedwing, en toe met hulle en die vragmotor weggery.

Die bestuurder is later afgelaai by Lenasia en die leë vragmotor is later langs die snelweg gevind.

De Beer sê die persoon wat die vragmotor opgespoor het, het die polisie verwittig, maar moes ure wag voor hulle opgedaag het.

Dit is nie die eerste keer dat ’n vragmotor vol vars produkte gekaap word nie, en landboudeskundiges meen boere moet seker maak dat hulle versekering voorsiening maak vir sulke skades wat derduisende rande kan beloop.