Bankrot Eskom betaal bonusse aan geskorstes

Betroubare bronne na aan Eskom reken dat dié instelling slegs kontant het om drie maande se salarisse te betaal.

Desnieteenstaande is hulle van plan om fris bonusse te betaal aan bestuurders, asook aan die geskorste Matshela Koko en Brian Molefe.

Minister Lynne Browe is gevra om R5,5 miljoen se bonusse goed te keur wat deel vorm van Eskom se beplande R13 miljoen uitbetalings aan topbestuur amptenare.

Molefe moet glo R2,1 miljoen ontvang vir agt maande se werk as hoof uitvoerende beampte, terwyl Koko, wat ‘n dissiplinêre verhoor afwag, glo R1,5 miljoen sal ontvang.

Anoj Singh, die hoof finansiële beampte met beweerde noue bande met die gebroeders Gupta, sal “slegs” R1,9 miljoen ontvang terwyl hy ook aanklagte van korrupsie afwag.

Renteterugbetalings van Eskom staan tans op R38 miljard.

‘n Woordvoerder van Eskom probeer die absurde bonusse regverdig deur te beweer dat die bestuurders hulle doelwitte bereik het en daarom op bonusse geregtig is.

Intussen moet verbruikers weer ‘n tariefverhoging bo die inflasiekoers by hulle begrotings inwerk sodat die spreekwoordelike vetkatte in uitspattige weelde kan leef.

Die grootste probleem is dat Eskom ‘n monopolie besit, wat die verbruikers geen keuse laat as om hierdie bonusse te subsidieer nie.