Zuma gedaag oor standpunt oor blankes

President Jacob Zuma moet een keer in sy lewe eerlik wees en sê wat moet die wittes doen om hom tevrede te stel dat hulle ʼn bydrae lewer om die land te laat werk.

Die uitdaging is gerig deur die leier van VF Plus, dr. Pieter Groenewald. Hy het gepraat tydens die presidensiële begrotingsdebat, en Zuma moet vandag in sy repliek op die uitdaging antwoord.

Dr. Groenewald sê Zuma moet net ‘n eerlike antwoord gee.  “Ons vra nie ʼn geskiedenisles nie. Ons ken dit. Hy moet sê wat hy wil hê die wittes moet doen om deel te word van die nuwe Suid-Afrika.”

Volgens dr. Groenewald het Zuma en sy regering die droom van 1995 se reënboognasie vernietig, en met sy voortdurende aanvalle op wittes skep hy ook groot rassewrywing. “Die tyd het daarom aangebreek dat hy vir die wit  mense van die land sê presies waar hulle met hom staan.”

Artikel 83(c) van die Grondwet bepaal dat die president eenheid in die land moet  bewerkstellig. “Maar hy doen dit nie, Hy sê die probleme in die land het begin toe Jan van Riebeeck hier geland het in 1652. Dat wit monopolie is wat die land se probleme veroorsaak.

“Hy vertel veral die swart mense gereeld dat dit sleg met hulle gaan, dat hulle arm is en nie werk het nie en dat hierdie ongelykheid wittes se skuld is omdat hulle die grond gesteel het.

“Die minister vir sosiale ontwikkeling gee selfs vir wit joernaliste die skuld vir die probleme by Sassa. Dan moet hy nie verbaas wees as die premier van Noordwes die tragiese voorval by Coligny in ʼn rassevoorval verander deur te sê wit boere het die swart seun vermoor nie.

“Is daar geen respek meer vir die reg nie? Ek sê vandag aan die president dat hy rassespanning in Suid-Afrika veroorsaak.

“Ek wil herhaal dat die wit mense van Suid-Afrika nie vra vir spesiale behandeling nie. Al wat hulle vra is gelyke regte en gelyke behandeling,” het dr. Groenewald gesê.