Waarnemende Misdaadhoof se verlede haal hom in

Die nuutaangestelde waarnemende hoof van die polisie se Misdaad Intelligensie Eenheid, Pat Mokushane, het ‘n kriminele rekord en hy bestuur na bewering sy privaat maatskappye vanuit sy kantoor, skynbaar sonder toestemming van die polisie.

Verder word daar beweer dat hy ‘n verhouding gehad het met ‘n ondergeskikte se vrou.

In 2002 as hy skuldig bevind aan ‘n oortreding van die Nasionale Pad Verkeerswet en in 1993 was hy gearresteer vir die besit van gesteelde goedere. Dit is egter nie seker of hy uiteindelik hiervoor skuldig bevind en gevonnis is nie.

Klaarblyklik het Mohushane nie die sekuriteitsklaring ontvang wat nodig is om sy werk te verrig nie.

Hy is egter nie die enigste offisier met ‘n verdagte verlede nie, want reeds in 2013 het die burgerlike sekretariaat van Polisie bekendgemaak dat 1 448 lede van die polisie kriminele rekords het wat wissel van moord, verkragting en korrupsie, dit terwyl hul steeds in diens is van SAPD.  Verskeie voormalige polisiekommissarisse tel ook onder hulle.