VSA wil Qatar beskerm teen isolasie

Die Verenigde State van Amerika probeer steeds om die konflik tussen die Saoedi-Arabiese koalisie en die regering van Qatar uit die weg te ruim.

Amerika is van mening dat die ultimatum wat deur die koalisie lande in die Midde-Ooste teen Qatar ingestel is, die regering van Qatar sal wegdryf na Iran.

Die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Rex Tillerson, het weer toegetree om die situasie te beredder, gesien in die lig dat Qatar die ultimatum as onbillik en onregverdig beskou.

Amerika is bekommerd dat hy sy lugmagbasis se regte kan verloor in die Midde-Ooste as die verskille met Qatar nie uit die weg geruim kan word nie.

Minister Tillerson is tans besig om die Saoedi-koalisie se regeerders en die van Qatar om die tafel te kry in die hoop dat ’n oplossing gevind kan word.

Solank as wat die ekonomiese sanksies teen Qatar van krag bly, is die land geensins van plan om gehoor te gee aan die eise soos vervat in die ultimatum nie.

Die stryd teen Qatar het begin toe beweer is dat die land finansiële steun aan terroriste bewegings soos Hamas en die Moslem-broeders gee.

Qatar moet ook bereid wees om die TV kanaal, Al Jazeera, te sluit, en moet ook sy handel met Iran beëindig.