VSA student Warmbier oorlede

Die Amerikaanse student, Otto Warmbier, wat onlangs vrygelaat is uit die tronk in Noord-Korea, en in ’n bedenklike toestand na Amerika gebring is, is oorlede.

Warmbier was gevonnis om 15 jaar tronkstraf uit te dien omdat hy ’n kommunistiese banier wou steel by ’n hotel in Noord-Korea, maar is met die toedoen van die Amerikaanse minister van buitelandse sake vrygelaat en na die VSA teruggebring.

Die student wat 17 maande in aanhouding was, is deur ’n span geneeskundiges van Amerika behandel na sy vrylating, maar sy familie het tydens ’n personderhoud gesê hulle seun het die stryd gewonne gegee.

Warmbier het ernstige breinskade opgedoen in die tronk en het in ’n toestand van ’n koma verkeer wat daarop dui dat hy deur die kommuniste mishandel is.

Die jongman se familie sê hulle is dankbaar dat hy nog lewend kon terugkeer na Amerika en die beste behandeling wat menslik moontlik is, in die hospitaal ontvang het.

Die familie sê in ’n verklaring dit is jammer dat hulle seun die vreeslikste martelinge moes ondergaan in Noord-Korea wat daartoe gelei het dat hy in so ’n erge toestand na sy land moes terugkeer.

Intussen het die reisagentskap in Amerika wat studentetoere na Noord-Korea onderneem, besluit om alle toere na die kommunistiese land te stop.