VSA: Dagvaarding teen Flynn uitgereik

Die Inligtingskommissie van die Amerikaanse Huis van Afgevaardigdes het die voormalige veiligheidsadviseur Michael Flynn gedagvaar.

In ’n verklaring van die kommissie word ook bekendgemaak dat president Donald Trump se persoonlike advokaat, Michael Cohen, ook gedagvaar is.

Die afgevaardigdes, Mike Conway en Adam Schiff het die media ingelig en gesê die kommissie hoop en verwag om met die getuienisse van verskeie mense uiteindelik die skakeling met Rusland gedurende die verkiesingsveldtog, uitgeklaar te kry.

Onbevestigde berigte lui dat die advokaat van Trump ’n moontlike verbintenis gehad het met Russiese politici of dalk net skakeling gehad met sakelui namens die Trump maatskappy.

Die werklike rede waarom hy gedagvaar is om te getuig, is egter nie bekend gemaak deur die kommissie nie.

Michael Flynn is deur die president ontslaan as adviseur nadat dit bekend geword het dat hy skakeling met die Russe gehad het en dit tydens sy aanstelling verswyg het.

Jared Kushner, die skoonseun van die president, is ook gevra om te getuig aangesien dit reeds bekend is dat hy skakeling met Rusland gehad het terwyl hy ook gepoog het om ’n geheime kommunikasiekanaal te bewerkstellig na Rusland.

Intussen is verneem dat die voormalige hoof van die FBI, James Comey, wat onverwags deur president Trump afgedank is, ’n klag ingedien het omdat die president hom na bewering gedruk het om die ondersoek oor skakeling met  Rusland te staak, en sal dus voor ’n spesiale kommissie van die Senaat getuig.

Foto – Michael Flynn