Trump word van leuens beskuldig

Die voormalige hoof van die Amerikaanse FBI, James Comey, het tydens sy getuienis voor die Inligtingskommissie van die Senaat die president drie keer daarvan beskuldig dat hy gelieg het.

Comey is vroeër deur President Trump afgedank en het daarmee ’n storm laat losbars in die Amerikaanse politiek, veral nadat dit bekend geword het dat Trump probeer het om Comey te beïnvloed om nie voort te gaan met ’n ondersoek nie.

Of die aantygings teen die president soveel gewig dra dat dit sy posisie in gedrang kan bring, is nog onseker, maar politieke ontleders meen dit kan ’n vertrouenskrisis teweegbring onder die Republikeine.

Comey wat as hoof van die FBI besig was om ondersoek te doen na Russiese inmenging in die presidentsverkiesing, en die optrede van veiligheidsadviseur Flynn, en het die gesprek met Trump oor die aangeleentheid as onvanpas bestempel.

Hy het egter erken dat Trump geen direkte kontak met die Russe gehad het nie, en waarnemers meen dit maak dat die president nie werklik skuldig is aan enige misdryf nie.

Intussen het Trump se advokaat gesê daar is ’n saak uit te maak teen Comey wat vertroulike inligting bekendgemaak het wat beslis teen die bepalings van die grondwet is.

Foto – James Comey