Theresa May begaan duur flater

Die Britse eerste minister, Theresa May, het waarskynlik haar duurste flater begaan toe sy geweier het om aan ’n lewendige televisie uitsending deel te neem teen haar grootste opponent.

Enkele dae gelede het premier May die nasionale TV uitsaaier in kennis gestel dat sy nie bereid is om teen Jeremy Corbyn te debatteer nie.

Die Britse kiesers het die optrede van haar as papbroekige weghardloop politiek bestempel, en die sosiale netwerk het begin gons.

Meningspeilings wat daarna gedoen is, toon dat die linkse Arbeidersparty van Jeremy Corbyn met groot spronge vorentoe beweeg het.

Van die peilings toon dat die Konserwatiewe Party tot soveel as 20 setels kan verloor, wat beteken dat Theresa May nie ’n volstrekte meerderheid in die parlement sal hè nie, en met die nasionalistiese Ukip sal moet hande vat in ’n koalisie regering.

Waarnemers sê die vorige voorspellings het daarop gedui dat die Konserwatiewes ’n klinkende oorwinning gaan behaal, maar May se fout kan haar duur te staan bring.