Staatspensioene dalk ondersoek

Adjunkpresident Cyril Ramaphosa het onderneem om oorweging te skenk aan ʼn voorstel van die VF Plus om deur wetgewing meganismes in plek te stel om die staatsdiens se pensioenfondse teen stroping te beskerm, sê adv. Anton Alberts, voorsitter van die VF Plus.

Adv. Alberts het in die parlement aan die adjunkpresident die probleme rondom openbare pensioenfondse geskets wat dit duidelik maak dat pensioenarisse rede het om te vrees dat hul fondse gestroop kan word soos wat met Transnet se fondse gebeur het.

Volgens adv. Alberts is die staat se pensioenfonds nie onderhewig aan die Pensioenfondswet nie en word dit ook nie beskerm deur ʼn pensioenfondsberegtiger (ombudsman) soos in die geval van private fondse nie.

Hy het aan adjunkpresident Ramaphosa gesê dit beteken dat die staat se pensioenarisse hulle tot regsaksies moet wend indien daar probleme ontstaan met hul fondse. Dit is ʼn duur en tydsame proses vir mense wat reeds geldelik swaar kry.

Adv. Alberts het na die situasie by Transnet in besonder verwys waar die fondse só gestroop is dat pensioenarisse moet oorleef op ʼn gemiddelde pensioen van R2 500 per maand wat minder is as die basiese minimum loon.

Adjunkpresident Ramaphosa het geantwoord dat dit ʼn goeie en positiewe voorstel is en het gevra dat adv. Alberts ʼn skriftelike voorlegging oor die aangeleentheid doen sodat dit behoorlik geëvalueer kan word.  Hy het gesê dit is belangrik dat pensioenarisse die gerustheid moet hê om te weet dat hul fonds goed geadministreer en beskerm word. Hy het ook gesê ondersoek moet gedoen word na die bedrag van R2 500 wat Transnet se pensioenarisse ontvang in terme van die fondse se eie bepalings.

“Indien die voorstelle tog nie aanvaar word nie, sal die VF Plus deur middel van ʼn privaatlid-wetsontwerp poog om die wet te verander,” sê adv. Alberts.