Skep moed en stap voort

 

In dié dag sal aan Jerusalem gesê word: Vrees nie, o Sion, laat jou hande nie slap hang nie! Die HERE jou God is by jou, ’n held wat verlossing skenk … Die wat bedroef is, ver weg van die fees, versamel Ek … (Sef. 3:16, 17, 18).Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op; en maak reguit paaie vir julle voete … (Hebr. 12:12, 13).

Daar is niks wat ’n mens so strem in jou werk en pligte soos om moed te verloor nie. En die lewe met sy nimmereindigende probleme en onsekerhede is genoeg om enige iemand moedeloos te maak. Daarom beleef ons almal soms tye van moedeloosheid en dan hang ons hande en knak ons knieë.

Die Here versamel diesulkes onder sy gelowiges; Hy bring sy kinders weer terug na die fees toe, daar waar gelowiges vol vreugde die lewenspad stap omdat Hy die pad gelyk gemaak het. Jesus Christus het al die struikelblokke op ons pad oorwin en daarom kan jy nou die dinge wat jou moedeloos maak in sy Naam aanpak en in sy krag oorwin. Tel jou hande en jou kop op en stap die geloofspad met vreugde en vol moed omdat volkome geluk aan die einde daarvan wink. Volg die roetewysers in die Woord en Wet van God en moenie daarvan links of regs afwyk nie, want dit op die dwaalweë waar moedeloosheid jou voorland is.

Dankie, Here Jesus, dat U my pad gelyk gemaak het deur u oorwinning aan die kruis. Lei my deur u Gees om die gebaande weg met vreugde te stap. Amen.