Saoedi stel ultimatum aan Qatar

Saoedi-Arabië en verskeie ander Arabiese lande in die Midde-Ooste  wat hulle band met Qatar verbreek het, het die afgelope naweek ’n lys van vereistes opgestel wat Qatar moet nakom.

Die lande stel die 13 vereistes wat Qatar moet nakom as ’n ultimatum, alvorens die diplomatieke krisis beëindig sal word.

’n Woordvoerder van die Qatar regering het in reaksie gesê die regering bestudeer die dokument en sal later sy mening daaroor uitspreek.

Die 13 vereistes is verlede Vrydagnag in Koeweit afgelewer wat as tussenganger optree om op indirekte wyse met Qatar te kommunikeer.

Saoedi-Arabië, Egipte, die Verenigde Arabiese Emirate, asook Bahrein het alle bande met Qatar beëindig nadat die land daarvan beskuldig is dat hy terroristebewegings subsidieer.

Die ultimatum wat aan Qatar gestel word, is dat die land binne tien dae moet reageer op die inhoud van die 13-punt dokument.

Politieke ontleders sê die optrede het die grootste diplomatieke krisis ooit in die Golf gebied veroorsaak.

Onbevestigde berigte lui dat een van die vereistes wat aan Qatar gestel word, is dat diplomatieke bande met Iran te verbreek.

’n Woordvoerder in Qatar het gesê die ultimatum voorwaardes is onbillik teenoor sy land, maar volledige reaksie sal later bekendgemaak word.

Foto – Valke is Qatar se “elite sport”.