SAMWU strafregtelik aangekla

Nadat die Bloemfonteinse stadsaal afgebrand is deur lede van die munisipale werkersvakbond, SAMWU, het die polisie skynbaar drie persone gearresteer en aangekla vir opsetlike saakbeskadiging.

Later is veertien ander individue ook aangekla en sal na verwagting binnekort voor die hof verskyn, maar dit is nog nie seker op watter klagtes hulle gaan moet tereg staan nie.

Die VF Plus het intussen ʼn klag van opsetlike saakbeskadiging teen die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersvakbond (SAMWU) sowel as sy provinsiale sekretaris, Thabang Tseoua aanhangig gemaak.

Mnr. Devar Smit, VF Plus-raadslid in die Bloemfonteinse metro, het die klagte by die Parkweg-polisiestasie gelê.

Die VF Plus het SAMWU vroeër by monde van raadslid dr. Elizabeth Snyman-van Deventer gemaan om sy lede in toom te hou nadat stakers ook onder andere elektrisiteitsdrade in woonbuurte soos Botshabelo en Dan Pienaar geknip het.

Tseoua het op die aanmaning gereageer deur enige bewerings van geweld deur SAMWU-lede ten sterkste te ontken en aan die Bloemfontein Courant gesê: “Die VF Plus suig hierdie aantygings uit sy duim en moet enige wandade deur ons lede kom bewys.  As dit so is, moet hulle dit aan die polisie rapporteer en die skuldige werkers moet gedissiplineer word”.

“Dit is dan presies wat ons vandag gedoen het. Dit was mnr. Tseoua en sy organisasie se plig om hul lede gedurende hierdie uitgerekte staking in toom te hou en hulle is aandadig aan die verwoesting van ʼn besonderse erfenisbate en ander eiendom en moet strafregtelik aangekla word,” het Smit gesê.