SA ekonomie nou piramideskema

Meer mense in Suid-Afrika kry nou maatskaplike toelaes as wat daar mense is wat in die ekonomie werksaam is.

Dit blyk uit ‘n verslag van die Instituut vir Rasse-aangeleenthede (IRA).

In reaksie daarop sê adv. Anton Alberts van VF Plus dat dit beteken daty “die land se ekonomie nou in ʼn volwaardige piramide-skema ontaard het”.

Adv. Alberts sê die VF Plus het sowat drie jaar gelede minister Pravin Gordhan – toe nog minister van finansies – gewaarsku dat Suid-Afrika afstuur op situasie waar sy ekonomie soos ʼn kaartehuis inmekaar kan tuimel. Hierdie waarskuwing tydens ʼn begrotingsdebat-toespraak is toe afgemaak as blote pratery; die presiese woord was ‘hyperbole’.

“Ongelukkig het dit nou waar geword. Die slegte nuus is dat daar geen plan is om die ekonomie om te draai nie aangesien die pro-Gupta groepering van die ANC in volle beheer is van die staatskas en die staatsdiens se talle pensioenfondse.

“Die ANC het geen plan om die ekonomie reg te ruk nie want die chaos wat veroorsaak word in die markte gee hulle die geleentheid om hul plan van sluip-onteiening deur te voer deur geld te maak deur spekulasie op die Rand en opkoop van kunsmatig afgedrukte aandele by wyse van staatsbefondsing deur die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) en die Nasionale Otwikkelingskorporasie (NOK).

“Die gedwonge bankrotskap en verkoop van die Optimum-myn aan die Guptas se Tegeta is ‘n klassieke voorbeeld.

“Swart bemagtiging word bloot ʼn instrument om as tussenganger te gebruik in enorme transaksies sonder om self enige waarde by te voeg. Dit beteken die armes word armer en die nuwe elite net ryker.

“Dit voorspel niks goed vir SA nie en skep ʼn omgewing vir onstabiliteit en uiteindelik rewolusie,” sê adv. Alberts.