Rio-karnaval dalk gekanselleer

Enige persoon wat van Rio de Janeiro praat, dink gewoonlik ook aan die wonderlike karnaval wat jaarliks in die Brasiliaanse stad gehou word en derduisende mense regoor die wêreld daarheen lok.

Die karnaval van 2018 gaan waarskynlik in die slag bly nadat die bekende stad ’n nuwe, en uiters konserwatiewe, burgemeester gekies het wat verklaar het dat hy groot besparingsmaatreëls gaan toepas om die skuldlas te verlig.

Kritiek wat uitgespreek word, dui daarop dat die burgemeester, Marcelo Crivella, wat ’n Protestant is, vasbeslote is om ernstige besparingsmaatreëls in werking te stel.

Die dertien grootste instansies wat jaarliks verantwoordelik is vir die skouspelagtige vertonings van die Rio-karnaval, moes verneem dat hulle subsidie vanaf die Rio owerheid, met minstens 50% gesnoei word.

Die organisasies sê daar is geen moontlikheid dat hulle ’n karnaval kan reël met net die helfte van die geld wat toegeken word nie.

Die burgemeester het gesê hy sal eerder wil sien dat die ander deel van die subsidie aangewend word om die minder bevoorregte kinders in die stad van kos te voorsien.