President Macron nie oral gewild

Minstens twee lande se politieke leiers het duidelik hulle ontevredenheid met die nuutverkose Franse president te kenne gegee.

Die regering van Pole, asook die konserwatiewe regering van Hongarye het skerp gereageer op die uitlatings van president Emmanuel Macron

Macron het gesê dat lidlande van die Europese Unie die neergelegde reëls en die volledige politieke implikasies daarvan moet voel.

In ’n mediakonferensie voor sowat agt Europese koerante, het hy gesê daar is lande wat die EU se subsidie in hulle sakke steek, terwyl hulle nie die Europese waardes respekteer nie.

Hy het dit onomwonde gestel dat die EU nie ’n supermark is waar lande self kan kies watter dele van hulle lidmaatskap aanvaar word en watter nie.

Die Hongaarse eerste minister, Victor Orban, en die Poolse premier, Beata Szydlo, is ontsteld oor die Franse president se uitlatings.

Premier Orban het in sy reaksie gesê Macron dink hy kan Europese lande skop, maar dit is nie hoe dit werk nie.

Premier Szydlo van Pole het die Franse president beskuldig van ’n negatiewe houding wat hy openbaar teenoor Sentraal Europese lande en meen dit sal beter wees as die president hom by feitelike inligting hou.

Dit is opvallend dat Bondskanselier Angela Merkel haar vierkantig agter haar Franse vriend skaar, en het selfs gesê Frankryk en Duitsland is op dieselfde golflengte met die saak.

Foto – Premier Victor Orban