Premier May behou sleutelministers

Die Britse eerste minister, Theresa May, het na afloop van die algemene verkiesing in die Verenigde Koninkryk, haar nuwe regering saamgestel met die behoud van die sleutelpolitici in hulle ampte as ministers.

Die inligting is die afgelope naweek bekendgemaak deur ’n woordvoerder van Downingstraat, wat ook daarop gewys het dat al die aanstellings eers later bekend gemaak sal word.

Boris Johnson bly aan as Minister van Buitelandse Sake, Amber Rudd as Minister van Binnelandse Sake, en Michael Fallon as Minister van Verdediging.

Die portefeulje van Brexit Onderhandelinge bly in die hande van minister David Davies, en Philip Hammond bly in die pos as Minister van Finansies.

Waarnemers wys daarop dat premier May die ministers Johnson en Hammond in hulle poste behou het al het sy verskeie kere ernstige verskille met hulle gehad.

May het tydens ’n byeenkoms van Konserwatiewe parlementslede haar spyt uitgespreek oor die lede wat hulle setels verloor het, en gesê nuwe denke is nodig om die party weer op koers te kry na die terugslag van verlede Donderdag se verkiesing.

Foto – Theresa May