Nuwe aanslag: Beskerm jou rekenaar

Met die nuwe “ransomware” gevaar wat tans regoor die wêreld rekenaars tot stilstand bring, is daar enkele maatreëls wat eienaars kan tref om hulle toestelle te probeer beskerm.

Die nuwe golf wat die verskillende lande van die wêreld tref, het aanvanklik in die Oekraïne sy opwagting gemaak, waarna een na die ander Europese land en Rusland besef het hulle is ook die prooi van die gevaar.

Wat is ransomware?

Ransomware sluit alle bestaande funksies op ’n rekenaar en kan nie maklik weer oopgemaak word nie.

Die slagoffer kry net ’n boodskap wat aandui dat die rekenaar gesluit word. Die boodskap gee ook besonderhede dat die rekenaar weer normaal sal funksioneer sodra die verlangde bedrag betaal word.

Gewoonlik word vereis dat betaling in virtuele geld soos “bitcoin” betaal word.

Wat kan gedoen word as beskerming?

Maak gereeld rugsteun van jou data, want dan kan jy minstens verseker wees jou belangrikste gegewens kan vorentoe gebruik word, al sou dit meebring dat ’n kleiner gedeelte werk verlore gegaan het.

Wees versigtig om nie op enige skakel (link) te klik nie, dit kan die “virus” net verder aktiveer. Die kwaaddoeners weet gewoonlik watter plekke mense besoek met ’n “klik” van die muis, en daar is die vabond wat heeltyd op jou gewag het!

Moet onder geen omstandighede vreemde e-posse oopmaak nie – verwyder hulle onverwyld.

Vroeër het Die Vryburger wenke gegee oor wat gedoen kan word teen die WannaCr, en indien lesers terugblaai sal die berig gevind word wat etlike maande gelede gepubliseer is.

Sorg dat jou anti-virus program opgedateer is en in volle werking bly, terwyl groter instansies ook hulle e-pos toelatings op uiters streng kan stel om seker te maak geen onbekende e-posse word ontvang nie.

Die euwel het elke kontinent getref, en Suid-Afrika het ook sy eerste rekenaars gekry wat nie wil werk nie – maak dus seker dat jou rekenaar veilig is.