Noord-Korea waarsku die wêreld

Die verteenwoordiger van Noord-Korea in die Verenigde Nasies, het gewaarsku dat Pyongyang sal voortgaan met sy kernwapen ontwikkelingsprogram waarmee die land besig is.

Hy sê die regering van Noord-Korea gaan onverbiddelik voort met sy beplanning, ongeag die sanksies wat teen die land ingestel word.

Die adjunk ambassadeur van Noord-Korea, Kim In Ryong, het die stelling gemaak in die hoofkwartier van die Verenigde Nasies.

Met verwysing na die teenwoordigheid van Amerikaanse oorlogskepe in die omgewing van die Skiereiland, het hy gesê dit bring die wêreld al nader aan ’n wêreldoorlog met kernwapens.

In ’n seldsame gesprek voor die Veiligheidsraad van die VN, het Kim In Ryong die Verenigde State van Amerika daarvan beskuldig dat hy “die droom van wêreldoorheersing” steeds najaag deur sy militêre teenwoordigheid in Asië.

“Die volk van Noord-Korea het besluit om daarop te reageer en sal sy soewereiniteit verdedig, ongeag wat ander lande daarvan dink, en ongeag sanksies of druk wat toegepas mag word, of selfs enige militêre aanval wat mag volg”, het hy gesê.

Met sy 700 000 permanente lede in die weermag, en sowat 4,5 miljoen in reserwemagte, is Noord-Korea gereed om met ’n kwart van sy totale bevolking enige aggressie teen te staan.

Alle manlike burgers in Noord-Korea moet op een of ander stadium militêre diens verrig, en kan te enige tyd opgeroep word om diens te verrig, wat sy weerbaarheid in mannekrag twee keer groter maak as sy suidelike buurstaat, Suid-Korea.