Nastergal / Solanum nigrum, die heerlike bessie

Nastergal is nie oral te sien nie en dus miskien ‘n bietjie onbekend. Alle nastergal bessies is ook nie eetbaar nie. Hierdie plant is eintlik ‘n onkruid, maar dit dra die heerlike nastergal bessies waarmee ons konfyt kook. Nastergal is in die familie Solanaceae en die genus is Solanum. Dit staan ook bekend as die “European black nightshade”. Die naam assosieer met die swart bessies. Dit is inheems in groot dele van Suid-Afrika en aard baie goed in die koeler gebiede van ons land en verskeie ander lande.

Die plante dra goed maar dit is baie harde werk om die ryp bessies te oes. Dit moet met die hande gepluk word. Net die swart (ryp) bessies is eetbaar en volgens bronne is die bessies wat nog nie verkleur het nie, giftig. Die Solanum retroflexum moet glad nie geëet word nie.

Solanum nigrum is maar een van 6 Solanum spesies wat eetbaar is. Dit is ‘n kruidagtige plant en word ook ‘n meerjarige klein struik genoem. Hierdie plante se leeftyd duur nie lank nie. Dit groei in woudagtige gebiede, kontoerlande van die hoëveld, Natal en die Vrystaat. Nastergal plante word tussen 30 cm en 120 cm hoog, die stingels laat mens dink aan distels. Die klein sagte, harige blare is ovaalvormig met getande rande en word tussen 2 cm en 5 cm lank en dit krul effens op aan die voorkant van die blare. Die blare groei baie dig teen die stingels.

Nastergal plante dra wit tot geel blomme wat elk 5 langwerpige kroonblare het. Na die blomtyd verskyn die bessies wat tussen 6 mm tot 8 mm groot is. Die ryp bessies is donker pers tot swart en dit is eetbaar. Gebruik altyd net die swart bessies om te eet. Hierdie bessies hang aan ‘n dun stingeltjie in trossies en hul word nie almal gelyk ryp nie, daarom is dit baie tydrowend en harde werk om die swart bessies te pluk. Die plant moet gestut word.

Wanneer die bessies gekook word, maak dit ‘n pragtige pers stroop en die smaak is heerlik. Die vars bessies het ‘n frank smaak. Indien die klimaat warm is, word die bessies vinniger ryp maar die ysige winters en matige somers skep ‘n gunstige klimaat vir hierdie plante om te floreer. Ons kan net gelukkig wees as ons by iemand ‘n botteltjie nastergalkonfyt as geskenk ontvang.

Tuiniers, geniet u tuin tot volgende keer.