Motorrubriek – Volkswagen Polo1.0 TSI R –Line DSG

 

Onmiddellik wanneer ‘n mens “3 silinder, 1 liter sien”, dan begin ‘n mens wonder! Gaan hierdie Volkswagen Polo aan my verwagtinge voldoen? Gaan daar nie gesukkel word om weg te kom nie? Wat gaan gebeur wanneer ‘n ander motor verby gegaan moet word ensovoorts.

Wanneer die motor egter op die pad geneem word, wag daar ‘n aangename verrassing op jou en wanneer daar na die tegniese spesifikasies gekyk word is die verrassing nog groter. Hierdie is ‘n ware klein parmant. Die drie silinder in lyn, 999 kub. sentimeter, dubbel oorhoofse nokas, 12 klep, turbo aangejaagde petrol kragbron is in staat om 81 kW teen 5000 o.p.m. te lewer en 200 Nm wringkrag is beskikbaar tussen 2000 en 3500 o.p.m. Volgens toetse uitgevoer is die brandstofverbruik 6,4 l/100 km.

Die krag oorbrenging vanaf die enjin na die voorwiele geskiet by wyse van VW se sewespoed DSG ratkas wat met ‘n dubbel koppelaar toegerus is. Die oorskakeling geskied vinnig en seepglad. Of dit na die volgende rat is of wanneer meer krag benodig word en daar moet terug skakel word na ‘n laer rat, daar is geen glip teenwoordig nie. Hoewel die werkverrigting akademies van aard is, is dit tog insiggewend om te weet waartoe die voertuig in staat is. Volgens toetse gedoen neem versnelling van 0 tot 100 km/u bykans 9.3 sekondes en die top snelheid is 197 km/u.

Om die motor nog meer aantreklik te maak, is R-toerusting bygebring en dit bestaan uit ‘n R LINE-kenteken op die sierrooster, kolligte wat deel is van die sierrooster, spesiale voor en agter stampers, aan die agterkant ‘n sportiewe drukvlerk aan die dak wat dieselfde kleur is as die voertuig, 17 duim Serron allooi wielnawe met 215/40 Bridgestone Potenza bande en ‘n 185/60R15 staal noodwiel.

Ander toerusting binne in die motor sluit in vier lugsakke, sport sitplekke wat met duursame materiaal bedek is,  verstelbare stuurwiel met verskeie skakelaars wat toerusting kan aktiveer en dan teen bykomende koste is daar toerusting beskikbaar wat die voertuig jou eie kenmerke kan gee. Van hierdie toerusting sluit in reën aanskakel veërs, outomatiese hooflig aanskakel toerusting,snelheidsbeheer, trukamera, LED hoofligte en lugsak gordyne aan die sykante binne in die motor ensovoorts.

Die instrumente is reg voor die bestuurder gepas en is duidelik leesbaar deur die speke van die stuurwiel. Die handrem is tussen die voorste sitplekke  gemonteer en die agterste passasiers het meer as genoeg been en kopspasie. Met die agterste sitplekke se rugleunings platgevou vermeerder die bagasieruim se volume van 280 liter na 952 liter.

Hierdie is inderdaad ‘n “wolf in skaapsklere” en u kan dit gerus vir ‘n toetsrit neem voordat u ‘n ander motor koop.