Motorrubriek – Volkswagen Amarok 3.0 TDI

Die 3.0 liter Volkswagen Amarok is ‘n heel nuwe voertuig en een van die redes daarvoor is dat dit op dieselfde vlak moet wees as die kompetisie.

Van die begin af was die Amarok gebou op ‘n onderstel wat bestaan uit die profiel van ‘n leer met dwars balke wat help verseker dat dit meer solied is en minder beweging dus plaasvind. Daar is dus meer weerstand teen die moontlike buig beweging van die onderstel wanneer daar byvoorbeeld op ruwe terrein gereis word.

Van dag een in 2010 af is daar gebruik gemaak van ‘n twee liter, vier silinder kragbron maar die nuwe kragbron is ‘n 90 grade V6, turbodiesel met  ketting aangedrewe dubbel oorhoofse nokaste en 12 kleppe per silinder kop. Dit stel dit in staat om 165 kW tussen 3000 en 4500 o.p.m. te lewer en 550 Nm wringkrag is tussen 1400 en 1750 o.p.m. beskikbaar. Hierdie kragbron was oorspronklik in die Audi A8 gebruik en is ‘n enjin met bewese betroubaarheid.

Binne en buite is daar verskeie veranderings aangebring waarvan die sierrooster met dwars stroke, kolligte voor, ‘n herontwerpte voor stamper, nuwe allooi wielnawe, ‘n derde remlig aan die agterkant seker van die mees opmerksame veranderings aan die buitekant van die voertuig is.

Binne veranderings sluit in vier lugsakke, ‘n veranderde instrument paneel, ‘n groter aanraakskerm, bloutand koppeling ensovoorts. Saam met die turbodiesel kragbron word daar gebruik gemaak van ‘n agt spoed outomatiese ratkas wat die krag oordra na permanente vier wiel aandrywing. Al die outomatiese ratkas bakkies het permanente vierwiel aandrywing danksy ‘n Torsen middel ewenaar wat onder normale omstandighede ‘n krag verspreiding van 40:60 laat plaasvind. Sodra daar egter die nodigheid ontstaan, word die krag verspreiding verander soos nodig.

Voor is daar 17 duim remskywe gepas en agter is daar 16 duim remskywe gepas in die plek van trommels met ABS en ESP ondersteuning.

Voor word ‘n XDL elektronies beheerde ewenaar gebruik en dit verseker dat die krag verspreiding van links na regs op die korrekte manier plaasvind. Die agter as kan meganies gesluit word wanneer daar deur moeilike terrein beweeg word. Inligting wat selde deurgegee word is dat die eerste rat se verhouding baie laag is en derhalwe is dit nie nodig om ‘n “donkierat” te pas nie. In eerste rat beweeg die voertuig teen ongeveer 4 km/u teen ‘n 1000 o.p.m.  Aangesien dit in permanente vierwiel aandrywing is, is dit nie nodig om nog toerusting by wyse van ‘n verstel knop te pas nie.

Op die oop pad of grondpaaie is die padgedrag van hoogstaande gehalte. Dit is m.a.w. ideaal vir dorp/stad of plaas gebruik. Die werkverrigting is van so ‘n aard dat ‘n mens maklik in die versoeking kan kom om dit te misbruik. Vernaamlik as dit volgens toetse, slegs 8 sekondes neem om van 0 tot 100km/ uur te versnel.