Motorrubriek – Toyota Corolla 1.4 D- 4D

 

Die Toyota Corolla is seker en van die bekendste en gewildste Japannese produkte in die motormark. Die 11de generasie E170 maak in sommige gevalle nog gebruik van 1980 tegnologie. Een daarvan is die armpie wat aan die regterkant van die bestuurder se sitplek gemonteer is wat gebruik word om die kattebak mee oop te maak. Dit is prakties en werk nog altyd baie doeltreffend.

Die motor se bougehalte is nog steeds van hoogstaande gehalte en dit verseker dat wanneer die motor op die pad geneem word, die padgedrag van hoogstaande gehalte is. Of moeder die kinders skool toe neem en of die maatskappy verteenwoordiger na die platteland moet reis, dit bly ‘n motor om te geniet. Die sig na buite is meer as voldoende en dit is maklik om te parkeer en beweeg seepglad deur die verkeer. In die geval van die viersilinder, agtklep, turbodiesel aangedrewe voertuig is daar genoeg wringkrag om wanneer nodig, ‘n ander voertuig op die pad met gemak verby te steek. Die wringkrag beskikbaar tussen 1800 o.p.m en 2800 o.p.m. is 205 Nm en krag is 66 kW teen 3800 o.p.m.

Om die motor se wringkrag tot sy volle reg te laat kom is dit in bergagtige wêreld nodig om die rathefboom so effe te “roei” en die toere so bietjie op te jaag. ‘n Dieselenjin hou daarvan dat die toere gebruik word ten einde dit tot sy volle reg te laat kom. Wanneer dit nodig is, is daar links van die koppelaar pedaal ‘n rusplek vir die linkervoet, dit is nou wanneer die lang pad aangepak word.

Die bagasieruim se buite hoogte op die laagste vlak is 67 sentimeter en strek redelik ver in die voertuig in. ‘n Staal wielvelling met vol grootte band van 205/55 R 16 pas maklik in die plek onder die mat. Daar is genoeg plek om die motor se gereedskap met gemak te verberg en daar is selfs genoeg plek om los goedere te kan berg. Wanneer die 40:60 sitplek leuning van die agterste sitplek plat gevou word is daar aansienlik meer pakplek beskikbaar. Daar is voorsiening gemaak dat daar aansienlike beenspasie is vir die agterste passasiers en die voorste sitplekke het genoeg verstellings om seker te maak dat ‘n gemaklike sit posisie ingeneem kan word.

Plaaslik is daar 10 verskillende modelle beskikbaar en die model wat hier beskryf word is die Prestige en het ‘n sesspoed handratkas met toerusting soos byvoorbeeld ABS sluitwerende remstelsel, nood remhulp, LED dag ry ligte, ses luidsprekers, agt duim aanraakskerm, lugversorging, tru kamera, leer bekleedsel vir die sitplekke, ‘n DVD speler en 16 duim allooi wielvellings. Al die petrol aangedrewe motors het spoedbeheerstelsels maar die diesel aangedrewe voertuig nie. Skyfremme is op al vier die wiele aangebring en dit verseker dat die voertuig met gemak en veilig tot stilstand gebring kan word.

McPherson stutte voor en ‘n wringstaaf agter verseker ‘n gemaklike rit op die pad. Voor is daar kolligte gepas in die onderste sierrooster met luginlate wat die lug oor die enjin verkoeler stuur en die hoofligte is in die boonste sierrooster gepas.  Om die veiligheid van die passasiers, veral die kinders verder te verbeter word daar gebruik gemaak van spesiale peutervrye deurslotte wat nie deur kinders oopgemaak kan word nie.

Hierdie bly ‘n staatmaker motor en indien u dit oorweeg om ‘n ander voertuig aan te skaf, kan u dit gerus neem vir ‘n toetsrit.