(Mis)leierskap stryd SA-2018 in perspektief

Ten spyte van grootskaalse ‘leierskap’-tekortkominge wat besig is om die ANC in faksies te verdeel, sal dit mense loon om nugter na die politieke leierskapstoneel in SA te kyk.

Die eerste wat uitstaan is die algehele mislukking op politieke terrein, régoor die spektrum.

Uit eie geledere het die Vryheidsfront klaaglik misluk in sy enigste mandaat: om die 1993-akkoord tot werklikheid deur te voer.  Dit was egter nie in hul finansiële belang nie.  Daardie deur het in 1999 finaal toegegaan, en sedertdien teer daardie party op kiesers wat teen wil en dank glo dat politieke partye kiesers se belange sal dien.

Maimane het uiteindelik openlik die DA se ware kleure gewys, terwyl wie werklik nuus kyk en luister al uit die staanspoor sou raaksien hy staan bloot meer gematigde rassediskriminasie voor.  En diskriminasie bly diskriminasie!  In praktyk bied die DA dus weinig anders as die ANC-beleid van die 1990’s, les bes met die nalatenskap van NP-verraad vermeng.

Hierdie feite kan nie verdoesel word nie, ongeag die pogings van die vakbondradio om mense anders te oortuig.

In lig van onlangse onthullings oor die Zoeloekoning se woonkompleks, blyk die Inkhata-magsblok gekoop te wees. En met die huidige Zoeloefaksie leidend binne die ANC is dit verstaanbaar.

Ander faksiepartye is maar verskyningsvorme en wegbrekers uit die ANC, of weglaatbaar klein opportuniste van bloot aspireer na ´n parlementêre salaris en  -pensioen.

Teen wil en dank is die enigste magstryd wat ons onmiddellike toekoms (menslik gesproke) gaan bepaal, die leierskapstryd binne die ANC.

Dlamini-Zuma se rekord spreek vanself – sy was deel van die ANC-binnekring en regeringskorrupsie uit die staanspoor!

Maar toenemend is die liberale pers – soos in die 1990’s – besig om menings skeef te trek, tans ten gunste van Cyril Ramaphosa.  Mense fokus graag op sy rekord as “sakeman” – wat weinig meer is as vergoeding vir sy mede-outeurskap van die grondwet en sy rol as KODESA-fasiliteerder om die mag uit ons volk se hande te steel.

Alle emosionele reaksie ten spyt: die feit bly dat die nuwe SA die produk is van Cyril Ramaphosa se werk as die de Klerk-Meyer poppemeester, saam met rolspelers in Brittanje en die VSA – die ANC was blote versiering om die massastem te mobiliseer.

Maar selfs belangriker:  Ramaphosa was agter die skerms die argitek van anti-Afrikaner rassisme, deur beleidstukke soos SEB en die verdere diskriminerende praktyke wat daaruit sou voortspruit.

Hy het onder die vaandel van “sosiaal-aanvaarbare beleggings” pensioenfondse gedwing om die swart gebiede wat die ANC onder Nelson Mandela verwoes het sedert 1990, te “herbou”.  (Veel is natuurlik intussen weer meermale verwoes en ‘herbou’)

Les bes, word op geforseerde ligter trant geskryf dat hy in eie reg ryk genoeg is en sal dus nie soos Zuma in die versoeking sal wees om te steel nie!

Daarin kan ons óók lees, in lig van Ramaphosa se steun vir “radikale ekonomiese transformasie”, dat hy inderdaad genoeg rykdom versamel het om na elders uit te wyk –

Hy het dus geen langtermyn belang om SA werklik te verbeter nie.

Uiteindelik is die enigste oplossing ´n daadwerklike herlewing van ons pioniersgees.  Ons kan weliswaar nie vandag wegtrek in die geografiese sin nie, maar ons kan nogtans laertrek om ons eie skole, kerke, besighede en blyplekke.

Ons kan deur innoverend te werk, die produksie waardekettings weer terugneem van makelaars en smouse, sodat ons die spreekwoordelike saai-tot-oes-tot-brood ketting weer self in hand neem, ten behoewe van ons eie mense.

Ons kan veral weer ons volkskinders leer arbeid adel: om self te werk is ´n teken van werklike volwasse verantwoordelikheid, geensins minderwaardig nie.

Dan kan ons begin om onsself tree vir tree los te maak van hierdie sinkende skip.