Merkel versus Trump

Kort nadat Donald Trump verkies is tot president van Amerika, het hy die Duitse Bondskanselier, Angela Merkel, se oop deur benadering met onwettige immigrante skerp gekritiseer.

Merkel het ewe skerp teruggekap en gesê die Amerikaner moet hom bepaal by sy land se vele probleme.

Dit was die eerste geskil tussen die twee leiers, en Merkel het telkens kritiek gelewer oor president Trump se rigting om Amerika weer sterk te maak en sy land se burgers weer trots te maak.

Angela Merkel was egter verplig om minder prominent oor immigrante te praat na Trump se kritiek, veral toe die nasionalistiese party, die AFD, skielik ’n sterker steun getoon het en haar eie partyleiers haar oor die kole gehaal het.

Trump se aanvoeling was in die kol dat die VSA se jaarlikse finansiële bydrae aan die Noord-Atlantiese Verdrag Organisasie (Navo) veels te hoog is teenoor die van ander lande in Europa, en hy het verskeie kere gesê die Europese lande moet hulle huis in orde kry.

Merkel het aanvanklik daarteen gerebelleer, maar Trump se onwrikbare standpunt het Merkel laat steier en moes later toegee dat die VSA se bydrae veel groter is as Duitsland of Frankryk se bydraes.

Merkel het besoek gebring aan die Wit Huis, en die media het dit hoog opgegee dat sy met haar oorredingsvermoë die Amerikaanse president sou laat herbesin oor klimaat, soos vervat in die Parys deklarasie, en ook sy siening wou omkeer oor Navo se finansies.

Trump het nie ’n sentimeter teruggedeins nie, maar Merkel laat verstaan dat Europa self verantwoordelikheid moet neem vir sy veiligheid deur groter finansiële steun aan Navo.

Hy het Merkel ook daarop gewys dat Amerika se standpunt oor die Parys ooreenkoms rakende die wêreld se klimaat, radikaal verskil van die ander lande.

Merkel het bedroë daarvan afgekom, en moes tydens die afgelope G7 beraad weereens kennis neem dat Trump nie gaan swig voor Duitse standpunte nie.

Dit was dus geen verassing toe president Trump die Bondskanselier gewaarsku het dat hy nie tevrede is met die handelsbalans tussen die twee lande nie.

Hy het gesê die geweldige handelstekort wat die VSA met Duitsland ondervind vinnig kan verander deur Duitse motorvervaardigers se handel met Amerika te stop.

Merkel het nie hierop gereageer nie, wel wetende dat president Trump gewoonlik sy dreigemente tot uitvoer sal bring.

Dit is die gebeure wat kanselier Merkel laat besluit het om presies te doen wat president Trump se oogmerk is, naamlik dat Europa vir sy eie veiligheid nie na die VSA of Brittanje moet kyk nie, maar na Europese lande.

Trump het tot hiertoe die stryd teen Merkel gewen, maar hoe lank dat sal voortduur, sal die tyd leer aangesien die Bondskanselier haar woorde en dade goed moet kies op die vooraand van ’n algemene verkiesing.

Miskien is dit die rede waarom die kanselier ook gesê het dat Europa ’n vriendskaplike verhouding met Amerika en Brittanje moet handhaaf.

Gerrie de Bruin