Malema verdedig skietende prokureur

Die leier van die EFF, Julius Malema, glo sy prokureur is onskuldig.

Die prokureur, Tumi Mokoena, het reeds in die hof verskyn op klagtes van poging tot moord nadat hy skynbaar op plaaswerkers by die Zebediela sitrusplaas geskiet het.  Hy is intussen op borgtog van R10 000 vrygelaat.

Skynbaar het die werkers hom met stokke probeer verjaag aangesien hulle hom nie daar wou hê nie. Sy verweer is dat hy in selfverdediging geskiet het, met die gevolg dat van die plaaswerkers raakgeskiet is en steeds in die hospitaal is.

Malema sê dit was bloot ‘n “ongelukkige voorval”, en hy wil nou bemiddel om agter die werklike rede vir die gebeure te kom. Intussen glo hy dat sy prokureur onskuldig is en ook deur die hof onskuldig bevind sal word.

Foto: Malema en sy aangeklaagde prokureur