Macron genoodsaak om kabinet te skommel

Gedurende die afgelope week het minstens vier ministers van die Franse president se kabinet hulle bedankings ingedien, en die moontlikheid dat daar nog bedankings kan kom, word nie uitgesluit nie.

Die sosialisties georiënteerde president Emmanuel Macron het hom deeglik misgis met sy kabinetslede se eerlikheid, terwyl hy juis ’n verkiesingsveldtog gevoer het waarin hy van elke platform aanspraak gemaak het op “eerlike regering”.

Die verpligte bedankings van vier ministers het die president gedwing om ’n kabinetskommeling te doen, en verskeie onbekende parlementslede word skielik ministers in sleutelposisies.

’n Sosialis wat uit die sakewêreld afkomstig is, ene Florence Parly, wat voorheen vir die Sosialiste gewerk het, se naam word genoem as een van die nuwe ministers.

Die nuwe kabinet, bestaande uit 29 ministers, het 14 vroue en 15 mans, wat aansienlik meer is as die 22 waarmee hy begin het kort na sy verkiesing as president.

Dit is ook opvallend dat hy verskeie persoonlike vriende en uitgesproke sosialiste as ministers aangestel het.

Foto – President Macron